Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:7-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Maar net jý en jou seuns mag as priesters diens doen en al die werk by die altaar en agter die voorhangsel verrig. Dat julle die priesterskap mag beklee, is 'n geskenk van My aan julle. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om die diens te verrig, moet doodgemaak word.”

8. Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou aangestel om toesig te hou oor die offergawes wat vir My gebring word. Ek gee aan jou en jou seuns 'n deel van al die gewyde gawes wat deur die Israeliete gebring word. Dit is 'n vaste instelling.

9. Die deel van die besondere gewyde gawes wat nie verbrand word nie, kom jou toe. Dit geld van al die offergawes wat die Israeliete vir My bring as besondere gewyde gawes, of dit graanoffers, sondeoffers of skuldoffers is. Dit behoort aan jou en jou seuns.

10. Wanneer jy dit eet, moet jy onthou dat dit besondere gewyde gawes is. Elke manspersoon uit jou familie mag dit eet. Dit moet ook vir jóú gewyde gawes wees.

11. “Verder behoort elke offergawe wat die Israeliete as beweegoffer bring, aan jou. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters. Dit is 'n vaste instelling. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

12. “Ek gee ook aan jou die beste van al die olie, die wyn en die koring wat deur die Israeliete uit hulle eerste opbrengs vir die Here gebring word.

13. Die eerste van alles wat hulle land oplewer en wat hulle vir die Here bring, is joune. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

14. Alles wat in Israel as banoffer aan die Here gewy word, is joune.

15. Elke eersgeborene van mens of dier wat vir die Here gebring word, is joune. Maar elke eersgebore seun en elke eersteling van 'n onrein dier moet jy loskoop.

16. Wat die loskoping betref, jy moet hulle loskoop as hulle 'n maand oud is, elkeen teen die vasgestelde prys van vyf en vyftig gram silwer volgens die standaardgewig van die heiligdom.

17. Maar die eerstelinge van beeste, skape en bokke moet jy nie loskoop nie, hulle is aan My gewy. Jy moet hulle bloed teen die altaar sprinkel en hulle vet as 'n vuuroffer verbrand, 'n offer wat vir My, die Here, aanvaarbaar is.

18. Die vleis van hierdie offerdiere is joune net soos die bors en die regterboud van die beweegoffer joune is.

19. Aan jou, jou seuns en jou dogters gee Ek al die gewyde gawes wat deur die Israeliete vir My as offergawes gebring word. Dit is 'n vaste instelling. Dit is my onverbreekbare verbond met jou en jou nageslag.”

20. Die Here het vir Aäron gesê: “Jy ontvang nie 'n deel van die Israeliete se land as besitting nie, jy kry nie 'n deel saam met hulle nie. Jou deel en jou besitting onder die Israeliete ontvang jy uit wat My toekom.

21. “Vir die dienswerk wat die Leviete in die tent van ontmoeting verrig, gee Ek aan hulle as hulle besitting al die tiendes wat die Israeliete as offergawes bring.

22. Die Israeliete mag nie weer naby die tent van ontmoeting diens probeer doen nie, want dan sondig hulle en sal hulle sterwe.

Lees volledige hoofstuk Numeri 18