Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:4-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hulle moet by jou aansluit en die diens by die tent van ontmoeting waarneem, al die werk by die tent. Iemand wat nie daartoe bevoeg is nie, mag nie saam met julle diens doen nie.

5. Net júlle mag die diens by die heiligdom en die altaar waarneem, sodat die toorn van die Here nie weer oor die Israeliete kom nie.

6. Ek het julle Levitiese ampsgenote uit die Israeliete afgesonder as my geskenk aan julle. Hulle behoort aan My vir die werk by die tent van ontmoeting.

7. Maar net jý en jou seuns mag as priesters diens doen en al die werk by die altaar en agter die voorhangsel verrig. Dat julle die priesterskap mag beklee, is 'n geskenk van My aan julle. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om die diens te verrig, moet doodgemaak word.”

8. Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou aangestel om toesig te hou oor die offergawes wat vir My gebring word. Ek gee aan jou en jou seuns 'n deel van al die gewyde gawes wat deur die Israeliete gebring word. Dit is 'n vaste instelling.

9. Die deel van die besondere gewyde gawes wat nie verbrand word nie, kom jou toe. Dit geld van al die offergawes wat die Israeliete vir My bring as besondere gewyde gawes, of dit graanoffers, sondeoffers of skuldoffers is. Dit behoort aan jou en jou seuns.

10. Wanneer jy dit eet, moet jy onthou dat dit besondere gewyde gawes is. Elke manspersoon uit jou familie mag dit eet. Dit moet ook vir jóú gewyde gawes wees.

Lees volledige hoofstuk Numeri 18