Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:21-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. “Vir die dienswerk wat die Leviete in die tent van ontmoeting verrig, gee Ek aan hulle as hulle besitting al die tiendes wat die Israeliete as offergawes bring.

22. Die Israeliete mag nie weer naby die tent van ontmoeting diens probeer doen nie, want dan sondig hulle en sal hulle sterwe.

23. Die Leviete moet die diens by die tent van ontmoeting behartig, en húlle is aanspreeklik vir hulle eie oortredinge. Dit is 'n vaste instelling, ook vir julle nageslag. Die Leviete kry nie 'n deel van die land saam met die Israeliete nie.

24. Ek gee aan die Leviete as hulle besitting die tiendes wat die Israeliete as offergawe aan die Here bring. Dit is waarom Ek vir hulle gesê het dat hulle nie 'n deel van die land saam met die Israeliete kry nie.”

25. Die Here het verder vir Moses gesê:

26. “Sê vir die Leviete: As julle die tiende wat Ek vir julle as besitting gee, van die Israeliete ontvang, moet julle 'n tiende daarvan as 'n offergawe aan die Here bring.

27. Julle offergawe sal beskou word asof dit koring is wat van die dorsvloer af kom en asof dit uit die volle opbrengs van die parskuip kom.

28. So moet ook julle van al die tiendes wat julle van die Israeliete ontvang, 'n offergawe aan die Here bring. Wat die Here daarvan toekom as offergawe, moet julle aan die priester Aäron gee.

29. Van alles wat aan julle gegee word, moet julle die beste en die mees gewyde deel as offergawe aan die Here bring.

30. Jy moet vir die Leviete sê: As julle die beste daarvan as offergawe bring, sal dit vir julle beskou word as julle deel van die opbrengs van die dorsvloer en die parskuip.

31. Julle en julle gesinne mag op enige plek daarvan eet. Dit is die beloning vir julle dienswerk by die tent van ontmoeting.

32. Deur die beste daarvan te bring, sal julle nie in hierdie saak oortree nie. Maar julle mag nie die gewyde gawes van die Israeliete ontwy nie, want dan sal julle sterwe.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 18