Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 14:25-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. “Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte. Draai môre om en trek weg na die woestyn toe met die Rietseepad.”

26. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

27. “Hoe lank sal hierdie slegte volk nog aanhou met hulle verset teen My? Ek het opgemerk hoe die Israeliete hulle teen My verset.

28. Sê vir hulle: ‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het.

29. In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van julle almal van twintig jaar en ouer wat in die sensus opgeneem is en wat teen My in verset gekom het.

30. Nie een van julle sal die land betree wat Ek met 'n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun.

31. En wat julle kinders betref, van wie julle gesê het dat hulle krygsgevangenes sal word, vir hulle sal Ek inbring, en hulle sal die land wat deur julle verwerp is, lief kry.

32. Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê.

33. Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê.

34. Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’

Lees volledige hoofstuk Numeri 14