Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 4:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Ek het die volk, gewapen met swaarde, spiese en pyle en boë, familiegewys ingedeel en hulle stelling laat inneem agter die muur onderkant elke plek waar die muur nog nie hoog genoeg was nie.

14. Daarna, toe ek agterkom dit is nodig, het ek die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk toegespreek: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.”

15. Ons vyande het gehoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit verydel het, en ons kon almal teruggaan muur toe, elkeen na sy werk toe.

16. Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs

17. wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand 'n wapen vasgehou.

18. Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoringblaser het naby my gebly.

19. Ek het vir die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk gesê: “Die werk is groot en uitgestrek, en ons is oor die hele muur uitgesprei, elkeen ver van die naaste man af.

20. Waar julle ook al die ramshoring hoor blaas, daar moet julle by ons saamtrek. Ons God sal vir ons die stryd voer.”

21. Ons het met die werk aangegaan, die helfte van die manne met spiese in die hand, van dagbreek af tot die sterre uitgekom het.

22. Ek het dié tyd ook vir die volk gesê: “Elke man met sy handlanger moet in Jerusalem oornag, sodat hulle snags vir wagdiens en bedags vir die werk beskikbaar is.”

23. Nie ek of my medeamptenare of my dienaars of die wagte by my het kans gekry om ons klere uit te trek nie en selfs by die water het ons ons wapens gereed gehou.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 4