Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:22-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Ek het die Leviete opdrag gegee om hulle te reinig en die poorte te kom bewaak sodat die sabbatdag heilig gehou sou word.Onthou tog ook dit, my God, ontferm U oor my in u groot liefde!

23. Daardie tyd het ek ook nog Judeërs gesien wat getroud was met vrouens uit Asdod en met Ammonitiese en Moabitiese vrouens.

24. Van hulle kinders het die helfte Asdods gepraat of die taal van 'n ander volk. Judees kon hulle nie praat nie.

25. Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God 'n eed laat aflê: “Julle sal julle dogters nie laat trou met die heidene se seuns nie en hulle dogters nie met julle seuns of met julleself nie.

26. Dit was tog hiermee dat koning Salomo van Israel gesondig het! Onder die groot nasies was daar nie 'n koning soos hy nie. Sy God het hom liefgehad en hom koning laat word oor die hele Israel, maar vreemde vrouens het ook vir hom laat sondig.

27. En nou moet ons hoor dat julle hierdie groot kwaad begaan het en ontrou aan ons God geword het deur vreemde vrouens te trou!”

28. 'n Seun van Jojada seun van die hoëpriester Eljasib was die skoonseun van Sanballat die Goroniet. Ek het hom van my af weggejaag.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13