Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:15-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Daardie tyd het ek in Juda gesien dat mense die wynpers op die sabbat trap, en vragte koring en ook wyn, druiwe, vye en allerhande pakke op donkies laai en in Jerusalem inbring op die sabbat. Ek het hulle gewaarsku om nie op dié dag kos te verkoop nie.

16. Die Tiriërs wat in Jerusalem gewoon het, het vis en allerhande koopware ingebring en op die sabbat aan die Judeërs en in Jerusalem verkoop.

17. Ek het die vooraanstaande burgers van Juda sterk aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so 'n verkeerde ding doen dat julle die sabbat ontheilig?

18. Dit is presies wat julle voorvaders gedoen het, sodat ons God al hierdie onheil oor ons en oor hierdie stad gebring het! Nou vererger julle die toorn wat op Israel rus deur die sabbat te ontheilig!”

19. Ek het toe opdrag gegee dat die poorte van Jerusalem gesluit moes word sodra dit daar begin donker word op die aand voor die sabbat en dat die poorte nie oopgesluit moes word voor ná die sabbat nie. Ek het van my eie dienaars by die poorte geplaas, sodat daar geen vrag op die sabbat sou inkom nie.

20. Toe het die handelaars en smouse 'n keer of twee net buite Jerusalem geslaap.

21. Ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: “Waarom slaap julle hier teen die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle straf.” Daarna het hulle nie weer op die sabbat gekom nie.

22. Ek het die Leviete opdrag gegee om hulle te reinig en die poorte te kom bewaak sodat die sabbatdag heilig gehou sou word.Onthou tog ook dit, my God, ontferm U oor my in u groot liefde!

23. Daardie tyd het ek ook nog Judeërs gesien wat getroud was met vrouens uit Asdod en met Ammonitiese en Moabitiese vrouens.

24. Van hulle kinders het die helfte Asdods gepraat of die taal van 'n ander volk. Judees kon hulle nie praat nie.

25. Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God 'n eed laat aflê: “Julle sal julle dogters nie laat trou met die heidene se seuns nie en hulle dogters nie met julle seuns of met julleself nie.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13