Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 7:24-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Die vet van 'n dooie dier of van 'n dier wat deur roofdiere gevang is, mag wel gebruik word, maar dit mag glad nie geëet word nie.

25. Iemand wat die vet eet van 'n dier wat as vuuroffer vir die Here aangebied is, moet van sy volksgenote afgesny word.

26. “Julle mag, waar julle ook al woon, geen bloed eet nie, nie van voëls of van diere nie.

27. Iemand wat enige bloed eet, moet van sy volksgenote afgesny word.”

28. Die Here het vir Moses gesê:

29. “Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand vir die Here 'n maaltydoffer aanbied, moet hy self uit sy maaltydoffer 'n offer aan die Here bring.

30. Hy moet dit met sy eie hand as vuuroffer vir die Here bring. Hy moet die vuuroffer, die vet van die bors, saam met die bors bring en dit in die teenwoordigheid van die Here heen en weer beweeg as 'n beweegoffer.

31. Die priester verbrand dan die vet op die altaar, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe.

32. “Julle moet die regterboud van die maaltydofferdier as 'n offergawe aan die priester gee.

33. Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed en die vet van die maaltydoffers hanteer, het aanspraak op die regterboud as sy aandeel.

34. “Die Here het die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is, uit die maaltydoffers van Israel gevat en dit aan die priester Aäron en sy seuns gegee. Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete.

35. “Dit is die aandeel van Aäron en sy seuns aan die vuuroffers van die Here, van die dag af dat hulle as priesters vir die Here gewy is.

36. Die dag toe hulle gesalf is, het die Here beveel dat hulle dié gawes van die Israeliete moet ontvang. Dit is 'n vaste instelling, ook vir hulle nageslag.”

37. Dit is dan die reëlings vir die brandoffer, die graanoffer, die sondeoffer, die skuldoffer, die offers by die priesterwyding en die maaltydoffers.

38. So het die Here aan Moses opdrag gegee by Sinaiberg in die Sinaiwoestyn die dag toe Hy die Israeliete beveel het om vir Hom offers te bring.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 7