Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 6:16-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Aäron en sy seuns eet die oorblywende deel. Daar kom nie suurdeeg by nie. Hulle eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting.

17. Dit word gebak, maar nie met suurdeeg nie. Dit is hulle deel wat Ek hulle uit my vuuroffer gee. Dit is 'n besondere gewyde gawe, net soos die sondeoffer en die skuldoffer.

18. Enige van die manlike nasate van Aäron mag daarvan eet. Dit is 'n vaste instelling vir julle nageslag met betrekking tot die vuuroffers van die Here. Elkeen wat daaraan raak, moet 'n gewyde wees.”

19. Die Here het vir Moses gesê:

20. “Aäron en elkeen wat hom opvolg, moet op die dag van sy salwing die volgende offergawe vir die Here aanbied: twee kilogram meel as graanoffer, die helfte in die môre en die helfte in die aand. Dit is 'n blywende voorskrif.

21. Die offergawe word met olie aangemaak op 'n bakplaat en die mengsel word as graanoffer in stukkies aangebied. Dit is aanvaarbaar vir die Here.

22. Die gesalfde priester wat uit die seuns van Aäron in sy plek gekom het, doen dit. Dit is 'n vaste instelling vir die Here. Die offer word heeltemal verbrand.

23. Elke graanoffer van dié priester word heeltemal verbrand. Dit word nie geëet nie.”

24. Die Here het vir Moses gesê:

25. “Sê vir Aäron en sy seuns: Die reëling vir die sondeoffer is soos volg: die sondeofferdier word in die teenwoordigheid van die Here geslag op dieselfde plek as die brandofferdier. Dit is 'n besondere gewyde gawe.

26. Die priester wat die sondeoffer hanteer, eet dit. Hy eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting.

27. Elkeen wat aan die vleis raak, moet 'n gewyde wees. As daar van die bloed op iemand se klere spat, moet die deel waarop die bloed gespat het, in die gewyde plek gewas word.

28. Die kleipot waarin die vleis gekook is, word gebreek, en as dit in 'n bronspot gekook is, moet die pot geskuur en met water afgespoel word.

29. Enige manlike persoon onder die priesters eet van die sondeoffer. Dit is 'n besondere gewyde gawe.

30. 'n Sondeofferdier waarvan bloed in die tent van ontmoeting gebring word om daarmee in die heiligdom versoening te doen, word egter nie geëet nie. Dit word verbrand.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 6