Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 27:11-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. As die gelofte gaan oor 'n onrein dier wat nie aan die Here geoffer mag word nie, moet die dier na die priester toe gebring word.

12. Hy moet dan die loskoopwaarde van die dier bepaal volgens sy kwaliteit. Die oordeel van die priester is in so 'n geval finaal.

13. As die persoon self die dier wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal.

14. “Wanneer iemand sy huis vrywillig aan die Here wy, word dit die Here se eiendom. Die priester moet dan die loskoopwaarde daarvan bepaal volgens die toestand van die gebou. Die oordeel van die priester is ook in hierdie geval finaal.

15. As die persoon wat die huis gewy het, dit self weer wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal. Dan is dit weer syne.

16. “As iemand 'n deel van sy grond aan die Here wy, moet die loskoopwaarde bepaal word volgens die hoeveelheid saad wat gewoonlik op die stuk grond gesaai word: vir elke honderd kilogram gars is die loskoopwaarde vyf honderd en sewentig gram silwer.

17. As hy die grond aan die Here wy gedurende die hersteljaar, geld die volle loskoopwaarde.

18. Maar as hy die grond ná die hersteljaar wy, moet die priester die aantal seisoene wat oorbly tot die volgende hersteljaar in berekening bring en die loskoopwaarde dienooreenkomstig verminder.

19. As die persoon die grond wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal. Dan is dit weer syne.

20. As hy die grond aan iemand anders verkoop sonder dat hy dit self teruggekoop het, kan hy dit nooit weer terugkoop nie.

21. Met die hersteljaar word die grond dan, soos in die geval van grond wat as banoffer aan die Here gewy is, die eiendom van die Here. Dit word dan deel van die priesters se grond.

22. As iemand 'n stuk grond wat hy gekoop het, wat dus nie sy erfgrond is nie, aan die Here wy,

23. moet die priester die totale loskoopwaarde bereken wat die grond tot die volgende hersteljaar het. Die skenker moet dan dadelik die loskoopwaarde in kontant betaal. Dit behoort aan die Here.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 27