Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses by Sinaiberg gesê:

2. “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, moet daar vir die land rustye wees tot eer van die Here:

3. ses jaar kan julle die lande saai en die wingerde snoei en die opbrengs oes,

4. maar die sewende jaar moet die hele land 'n rustyd hê, 'n sabbatsjaar tot eer van die Here. Dan mag julle niks saai nie en ook nie die wingerde snoei nie.

5. Julle mag selfs nie die opslaggraan of die druiwetrosse van die ongesnoeide wingerde afoes nie. Dit moet vir die land 'n jaar van algehele rus wees.

6-7. Dit moet vir julle 'n jaar van algehele rus wees. Julle, julle slawe, julle slavinne, julle dagloners en die bywoners in julle land sowel as julle diere en die wild moet dan leef van wat die veld oplewer.

8. “Tel sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe jaar, dit wil sê nege en veertig jaar.

9. Laat dan ramshorings blaas op die tiende van die sewende maand op die versoendag. Die ramshorings is die teken dat almal in die land

10. die jaar van die vyftigste landbouseisoen op 'n besondere wyse aan die Here moet wy. Daar moet 'n landswye afskrywing van skuld geproklameer word. Dit moet vir almal 'n hersteljaar wees: elke Israeliet moet sy grond terugkry en mag na sy familie toe teruggaan.

11. Hierdie vyftigste landbouseisoen moet julle hersteljaar wees. Julle mag nie saai nie en ook nie die opslaggraan of ongesnoeide wingerde afoes nie,

12. maar julle moet eet van wat die veld opgelewer het: die hersteljaar is 'n gewyde jaar.

13. “In die hersteljaar moet elkeen sy grond terugkry.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25