Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 21:7-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. “'n Priester mag nie trou met 'n prostituut of met 'n meisie wat nie meer 'n maagd is nie. Hy mag ook nie met 'n geskeide vrou trou nie; hy is aan sy God gewy.

8. “Jy moet die heiligheid van die priester erken, Israel! Hy is immers die een wat die offers vir jou God aanbied. Die priester moet vir jou heilig wees, want Ek die Here is heilig en Ek heilig julle.

9. “As 'n priester se dogter haar ontwy deur te hoereer, ontwy sy ook haar pa. Sy moet verbrand word.

10. Die hoëpriester op wie se kop olie uitgegiet is om hom te salf en wat georden is om die heilige klere te dra, mag glad nie rou deur sy hare onversorg te laat of sy klere te skeur nie.

11. Hy mag ook glad nie naby enige lyk kom nie, hy mag nie eens met die lyk van sy pa of ma verontreinig word nie.

12. Hy mag nie die heiligdom verlaat met die oog op 'n sterfgeval nie, want hy kan dalk die heiligdom van sy God ontwy. As hoëpriester is hy met olie gesalf en dra hy die wydingsteken van sy God. Ek is die Here.

13. Die hoëpriester mag net met 'n maagd trou.

14. Met 'n weduwee, 'n geskeide vrou, 'n vrou wat nie meer 'n maagd is nie, of met 'n prostituut, mag hy nie trou nie. Hy mag alleen met 'n maagd uit sy eie stam trou,

15. anders is sy nageslag ontwy. Ek, die Here, het hom geheilig.”

16. Die Here het Moses ook beveel:

17. “Sê vir Aäron: Geeneen van jou nakomelinge met 'n liggaamlike tekortkoming mag ooit 'n offer aan God bring nie.

18. Geen persoon wat 'n liggaamlike tekortkoming het, mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met 'n misvormde gesig of liggaamsdeel,

Lees volledige hoofstuk Levitikus 21