Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 21:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Aäronitiese priesters: 'n Priester mag hom nie verontreinig deur naby 'n lyk te kom nie, al is die oorledene ook 'n familielid.

2. Hy mag dit slegs doen in die geval van 'n naaste bloedverwant van hom: sy ma of pa, sy seun of dogter, sy broer

3. of 'n eie suster as sy 'n ongetroude jongmeisie is.

4. Hy mag hom nie verontreinig deur naby die lyk van 'n aangetroude familielid te kom nie.

5. Priesters mag nie as teken van rou hulle hare of wangbaard afskeer of aan hulle liggame snymerke maak nie.

6. Hulle moet aan hulle God alleen gewy wees en mag nie sy Naam ontheilig nie. Omdat hulle gedurig offers aan die Here hulle God bring, moet hulle gewyd bly.

7. “'n Priester mag nie trou met 'n prostituut of met 'n meisie wat nie meer 'n maagd is nie. Hy mag ook nie met 'n geskeide vrou trou nie; hy is aan sy God gewy.

8. “Jy moet die heiligheid van die priester erken, Israel! Hy is immers die een wat die offers vir jou God aanbied. Die priester moet vir jou heilig wees, want Ek die Here is heilig en Ek heilig julle.

9. “As 'n priester se dogter haar ontwy deur te hoereer, ontwy sy ook haar pa. Sy moet verbrand word.

10. Die hoëpriester op wie se kop olie uitgegiet is om hom te salf en wat georden is om die heilige klere te dra, mag glad nie rou deur sy hare onversorg te laat of sy klere te skeur nie.

11. Hy mag ook glad nie naby enige lyk kom nie, hy mag nie eens met die lyk van sy pa of ma verontreinig word nie.

12. Hy mag nie die heiligdom verlaat met die oog op 'n sterfgeval nie, want hy kan dalk die heiligdom van sy God ontwy. As hoëpriester is hy met olie gesalf en dra hy die wydingsteken van sy God. Ek is die Here.

13. Die hoëpriester mag net met 'n maagd trou.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 21