Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:5-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. “Wanneer julle 'n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is:

6. julle moet die vleis eet op die dag wanneer julle slag, of hoogstens die volgende dag. Wat oorbly tot die derde dag, moet verbrand word.

7. Wie daarvan op die derde dag eet, eet iets onreins. Dit is nie vir My aanneemlik nie.

8. Wie daarvan eet, is skuldig, want hy ontheilig wat aan die Here gewy is. So iemand sal van sy volksgenote afgesny word.

9. “Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie.

10. Julle moet ook nie die wingerde 'n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

11. “Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie.

12. Julle mag nie 'n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13. “Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie 'n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie.

14. Uit eerbied vir jou God mag jy nie 'n dowe vloek of 'n hindernis in die pad van 'n blinde lê nie. Ek is die Here.

15. “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19