Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:25-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte gebruik. Julle sal dan goeie opbrengste hê. Ek is die Here julle God.

26. “Julle mag nie aan heidense offermaaltye deelneem nie. Julle mag nie waarsêery en towery beoefen nie.

27-28. Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.

29. “Niemand van julle mag sy dogter die skande aandoen om haar 'n tempelprostituut te laat word nie. Dit lei tot hoerery en afskuwelike sondes in die land.

30. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here.

31. Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God.

32. “Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.

33. “Wanneer daar 'n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie.

34. Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.

35. “Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie.

36. Julle moet 'n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.

37. Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19