Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:16-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17. “Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie. Maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie.

18. Jy mag nie wraak neem of 'n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19. “Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of 'n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.

20. “Wanneer die eienaar van 'n slavin reeds 'n ooreenkoms aangegaan het waarvolgens iemand anders haar as byvrou koop, en die eienaar het met haar gemeenskap voordat die prys betaal is en voordat hy van haar afstand gedoen het, moet hy aan die toekomstige eienaar skadevergoeding betaal. Hulle mag nie die doodstraf opgelê word nie, want hy het nog beskikkingsreg oor haar.

21. Verder moet hy as skuldoffer vir die Here 'n ram bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe.

22. Die priester moet met die skuldofferram vir die eienaar van die slavin versoening doen by die Here oor die sonde wat gedoen is. Die sonde sal dan vergewe word.

23. “Wanneer julle julle in die land vestig en allerhande soorte vrugtebome plant, mag julle drie jaar lank glad nie die vrugte pluk nie. Die vrugte is vir julle verbode. Dit mag nie geëet word nie.

24. Die vierde jaar moet al die vrugte as 'n gawe van dankbaarheid aan die Here gewy word.

25. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte gebruik. Julle sal dan goeie opbrengste hê. Ek is die Here julle God.

26. “Julle mag nie aan heidense offermaaltye deelneem nie. Julle mag nie waarsêery en towery beoefen nie.

27-28. Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.

29. “Niemand van julle mag sy dogter die skande aandoen om haar 'n tempelprostituut te laat word nie. Dit lei tot hoerery en afskuwelike sondes in die land.

30. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here.

31. Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God.

32. “Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.

33. “Wanneer daar 'n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie.

34. Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.

35. “Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie.

36. Julle moet 'n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19