Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. “Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie.

12. Julle mag nie 'n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13. “Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie 'n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie.

14. Uit eerbied vir jou God mag jy nie 'n dowe vloek of 'n hindernis in die pad van 'n blinde lê nie. Ek is die Here.

15. “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.

16. Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17. “Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie. Maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie.

18. Jy mag nie wraak neem of 'n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19. “Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of 'n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.

20. “Wanneer die eienaar van 'n slavin reeds 'n ooreenkoms aangegaan het waarvolgens iemand anders haar as byvrou koop, en die eienaar het met haar gemeenskap voordat die prys betaal is en voordat hy van haar afstand gedoen het, moet hy aan die toekomstige eienaar skadevergoeding betaal. Hulle mag nie die doodstraf opgelê word nie, want hy het nog beskikkingsreg oor haar.

21. Verder moet hy as skuldoffer vir die Here 'n ram bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe.

22. Die priester moet met die skuldofferram vir die eienaar van die slavin versoening doen by die Here oor die sonde wat gedoen is. Die sonde sal dan vergewe word.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19