Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 18:7-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. “Jy mag nie jou pa die skande aandoen dat jy met jou ma gemeenskap het nie. Sy is tog immers jou ma. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.

8. “Jy mag ook nie met 'n ander vrou van jou pa gemeenskap hê nie. Dit sal skande oor jou pa bring.

9. “Jy mag nie met jou suster gemeenskap hê nie, ook nie met 'n halfsuster aan vaderskant of aan moederskant nie, of hulle nou deel is van die gesin of nie.

10. “Jy mag nie met jou kleindogter gemeenskap hê nie, want sy is jou nageslag.

11. “Jy mag nie met 'n halfsuster aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou suster.

12. “Jy mag nie met jou tante aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou pa se bloedverwant.

13. “Jy mag nie met jou tante aan moederskant gemeenskap hê nie, want sy is jou ma se bloedverwant.

14. “Jy mag nie jou oom die skande aandoen dat jy met sy vrou gemeenskap het nie. Sy is immers jou tante.

15. “Jy mag nie met jou skoondogter gemeenskap hê nie. Sy is jou seun se vrou. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.

16. “Jy mag nie met jou skoonsuster gemeenskap hê nie, want dit sal skande oor jou broer bring.

17. “Jy mag nie gemeenskap hê met 'n vrou en met haar dogter nie. Jy mag die vrou nie die skande aandoen dat jy met 'n kleindogter van haar trou nie. Hulle is haar nageslag en dit sal 'n afstootlike daad wees.

18. “Solank jou vrou lewe, mag jy nie met haar suster trou nie. Daar sal vyandskap tussen hulle ontstaan as jy met albei gemeenskap het.

19. “Jy mag nie met 'n vrou gemeenskap hê terwyl sy menstrueer en dus onrein is nie.

20. “Jy mag nie met jou naaste se vrou gemeenskap hê en jouself só verontreinig nie.

21. “Jy mag nie een van jou kinders wy aan Molek en só die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

22. “Jy mag nie 'n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is 'n afstootlike sonde.

23. “Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap hê en jouself so besoedel nie. 'n Vrou mag dit ook nie doen nie. Dit is iets afskuweliks.

24. “Julle moet julle op geen van hierdie maniere verontreinig nie, want dit is wat die heidene gedoen het wat Ek voor julle verdryf.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 18