Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 18:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Ek is die Here julle God.

3. Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie.

4. Julle moet my bepalings nakom en my voorskrifte gehoorsaam deur daarvolgens te lewe. Ek is die Here julle God.

5. Wees gehoorsaam aan my voorskrifte en bepalings. Wie dit doen, sal lewe. Ek is die Here.

6. “Niemand van julle mag met 'n naby bloedverwant geslagsgemeenskap hê nie. Ek is die Here.

7. “Jy mag nie jou pa die skande aandoen dat jy met jou ma gemeenskap het nie. Sy is tog immers jou ma. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.

8. “Jy mag ook nie met 'n ander vrou van jou pa gemeenskap hê nie. Dit sal skande oor jou pa bring.

9. “Jy mag nie met jou suster gemeenskap hê nie, ook nie met 'n halfsuster aan vaderskant of aan moederskant nie, of hulle nou deel is van die gesin of nie.

10. “Jy mag nie met jou kleindogter gemeenskap hê nie, want sy is jou nageslag.

11. “Jy mag nie met 'n halfsuster aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou suster.

12. “Jy mag nie met jou tante aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou pa se bloedverwant.

13. “Jy mag nie met jou tante aan moederskant gemeenskap hê nie, want sy is jou ma se bloedverwant.

14. “Jy mag nie jou oom die skande aandoen dat jy met sy vrou gemeenskap het nie. Sy is immers jou tante.

15. “Jy mag nie met jou skoondogter gemeenskap hê nie. Sy is jou seun se vrou. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.

16. “Jy mag nie met jou skoonsuster gemeenskap hê nie, want dit sal skande oor jou broer bring.

17. “Jy mag nie gemeenskap hê met 'n vrou en met haar dogter nie. Jy mag die vrou nie die skande aandoen dat jy met 'n kleindogter van haar trou nie. Hulle is haar nageslag en dit sal 'n afstootlike daad wees.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 18