Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 9:5-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. aan hulle voete was verslete, gelapte skoene en hulle het verslete klere aangehad; al hulle padkos was droog en verkrummel.

6. Hulle het na Josua toe in die kamp by Gilgal gegaan en vir hom en die Israeliete gesê: “Ons kom uit 'n ver land en ons kom vra dat u met ons 'n verdrag sluit.”

7. Die Israeliete het vir die Gibeoniete, wat Hewiete was, gesê: “Dalk woon julle hier tussen ons. Hoe kan ons dan met julle 'n verdrag sluit?”

8. Hulle het vir Josua gesê: “Ons wil u onderdane wees.”“Maar wie is julle en waar kom julle vandaan?” vra Josua.

9. En hulle antwoord: “Ons kom uit 'n baie ver land; ons kom op grond van die roem van die Here u God. Ons het van Hom gehoor en van alles wat Hy met Egipte gedoen het,

10. en ook van alles wat Hy met die twee Amoritiese konings oorkant die Jordaan gedoen het, met koning Sihon van Gesbon en met koning Og van Basan wat in Astarot gewoon het.

11. Ons leiers en al die inwoners van ons land het vir ons gesê: Vat padkos saam en gaan die Israeliete tegemoet en sê vir hulle: Ons wil onderdane wees; wil u nie met ons 'n verdrag sluit nie?

12. Kyk ons brood, dit was nog warm toe ons dit uit ons huise gebring het om vir padkos saam te vat die dag toe ons na u toe vertrek het, en nou is dit droog en verkrummel.

13. En kyk ons wynsakke wat nuut was toe ons hulle vol gemaak het, nou is hulle vol barste. Kyk hoe verslete is ons klere en ons skoene van die lang pad.”

14. Die Israeliete het na die padkos gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie.

15. Josua het die Gibeoniete goed behandel en met hulle 'n verdrag gesluit dat hulle lewens gespaar sal word. Die leiers van die volksvergadering het dit met 'n eed bevestig.

16. Drie dae nadat die verdrag gesluit is, het die Israeliete gehoor dat die Gibeoniete hulle bure is en tussen hulle woon.

17. Die Israeliete het dadelik vertrek en op die derde dag by die stede van die Gibeoniete aangekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18. Die Israeliete het hulle nie aangeval nie omdat die leiers van die volksvergadering 'n eed teenoor die Gibeoniete afgelê het voor die Here die God van Israel, maar die hele volk het teen die leiers gemor.

19. Die leiers het vir die volk gesê: “Ons het 'n eed teenoor hulle afgelê voor die Here die God van Israel. Ons kan hulle nie nou aanval nie.

20. Ons moet ons woord hou en hulle lewens spaar sodat die eed wat ons teenoor hulle afgelê het, nie die straf van God op ons bring nie.”

21. Die leiers het verder ook nog vir die volk gesê: “Laat hulle lewe, maar dan moet hulle houtkappers en waterdraers van die hele volk word.”Nadat die leiers met die Israeliete gepraat het,

Lees volledige hoofstuk Josua 9