Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 9:15-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Josua het die Gibeoniete goed behandel en met hulle 'n verdrag gesluit dat hulle lewens gespaar sal word. Die leiers van die volksvergadering het dit met 'n eed bevestig.

16. Drie dae nadat die verdrag gesluit is, het die Israeliete gehoor dat die Gibeoniete hulle bure is en tussen hulle woon.

17. Die Israeliete het dadelik vertrek en op die derde dag by die stede van die Gibeoniete aangekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18. Die Israeliete het hulle nie aangeval nie omdat die leiers van die volksvergadering 'n eed teenoor die Gibeoniete afgelê het voor die Here die God van Israel, maar die hele volk het teen die leiers gemor.

19. Die leiers het vir die volk gesê: “Ons het 'n eed teenoor hulle afgelê voor die Here die God van Israel. Ons kan hulle nie nou aanval nie.

20. Ons moet ons woord hou en hulle lewens spaar sodat die eed wat ons teenoor hulle afgelê het, nie die straf van God op ons bring nie.”

21. Die leiers het verder ook nog vir die volk gesê: “Laat hulle lewe, maar dan moet hulle houtkappers en waterdraers van die hele volk word.”Nadat die leiers met die Israeliete gepraat het,

22. het Josua die Gibeoniete geroep en vir hulle gesê: “Hoekom het julle ons bedrieg? Julle het gesê julle woon baie ver van ons af en al die tyd woon julle tussen ons.

23. Daar rus nou 'n vloek op julle. Julle sal altyd slawe wees: houtkappers en waterdraers vir die huis van my God.”

24. Hulle het Josua geantwoord: “Daar is oor en oor aan ons vertel wat die Here u God vir sy dienaar Moses gesê het, naamlik dat Hy aan u die hele land gee en dat Hy al die inwoners van die land sal uitroei om vir u plek te maak. Ons het vir ons lewens gevrees, en daarom het ons dié ding gedoen.

25. Ons is in u hande, doen met ons wat goed en reg is in u oë.”

26. Josua het toe só gemaak: hy het hulle beskerm teen die Israeliete dat dié hulle nie doodmaak nie,

27. maar hy het hulle van dié dag af houtkappers en waterdraers gemaak vir die volk en vir die altaar van die Here op dié plek wat die Here sou kies. Dit is vandag nog so.

Lees volledige hoofstuk Josua 9