Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 9:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Al die konings wes van die Jordaan, dié in die Bergland, in die Laeveld, aan die hele kus van die Groot See en tot regoor die Libanon, die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, het van Josua gehoor

2. en hulle het eendragtig saamgestaan om teen hom en Israel te veg.

3. Maar toe die inwoners van Gibeon hoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het,

4. het hulle 'n slim plan gemaak. Hulle het padkos ingepak; hulle het verslete saalsakke op hulle donkies saamgeneem en verslete wynsakke wat geskeur en weer toegewerk was;

5. aan hulle voete was verslete, gelapte skoene en hulle het verslete klere aangehad; al hulle padkos was droog en verkrummel.

6. Hulle het na Josua toe in die kamp by Gilgal gegaan en vir hom en die Israeliete gesê: “Ons kom uit 'n ver land en ons kom vra dat u met ons 'n verdrag sluit.”

7. Die Israeliete het vir die Gibeoniete, wat Hewiete was, gesê: “Dalk woon julle hier tussen ons. Hoe kan ons dan met julle 'n verdrag sluit?”

8. Hulle het vir Josua gesê: “Ons wil u onderdane wees.”“Maar wie is julle en waar kom julle vandaan?” vra Josua.

9. En hulle antwoord: “Ons kom uit 'n baie ver land; ons kom op grond van die roem van die Here u God. Ons het van Hom gehoor en van alles wat Hy met Egipte gedoen het,

10. en ook van alles wat Hy met die twee Amoritiese konings oorkant die Jordaan gedoen het, met koning Sihon van Gesbon en met koning Og van Basan wat in Astarot gewoon het.

Lees volledige hoofstuk Josua 9