Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 5:8-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Nadat die hele nasie klaar besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle gesond was.

9. Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek julle bevry van die smaad wat van Egipte se tyd af op julle rus.”Josua het die plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog die naam.

10. Terwyl die Israeliete nog in Gilgal in die kamp was, het hulle die paasfees daar in die Jerigovlakte gevier, op die veertiende van die maand, in die aand.

11. Die oggend na paasfees, presies op dié dag, het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring, van die opbrengs van die land, geëet.

12. Daardie oggend toe hulle van die opbrengs van die land eet, het die manna weggebly; daar was nie weer manna vir die Israeliete nie: hulle het daardie jaar van die land Kanaän se eie oes geëet.

13. Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar 'n man voor hom met 'n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s'n?”

14. “Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.”Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?”

15. Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is 'n gewyde plek.”Josua het dit gedoen.

Lees volledige hoofstuk Josua 5