Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 21:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die familiehoofde van die Leviete het na die priester Eleasar, na Josua seun van Nun en na die familiehoofde van die Israelitiese stamme toe gekom

2. in Silo in Kanaän en vir hulle gesê: “Die Here het deur Moses beveel dat ons stede moet kry om in te woon en weiveld vir ons vee.”

3. Die Israeliete het toe die bevel van die Here uitgevoer en uit hulle woongebiede vir die Leviete dorpe met weivelde gegee.

4. Daar is vir die Kehatgroep geloot, en aan hierdie Leviete uit die geslag van die priester Aäron is dertien stede toegeken in die stamgebied van Juda, Simeon en Benjamin.

5. Vir die res van die Kehatgroep is tien stede geloot in die gebied van die families in die stam Efraim, die stamgebied Dan en dié van die halwe Manassestam.

6. Vir die Gersongroep is dertien stede geloot in die gebiede van die families in die stam Issaskar, die stamgebied van Aser en Naftali en dié van die halwe Manassestam in Basan.

7. Vir die families in die Merarigroep was daar twaalf stede in die stamgebied van Ruben, Gad en Sebulon.

8. Die Israeliete het die stede met weivelde aan die Leviete toegeken deur loting, soos die Here deur Moses beveel het.

9. In die stamgebied van Juda en Simeon is die volgende stede wat by name aangedui is, toegeken

10. aan die Leviete uit die nageslag van Aäron wat tot die Kehatgroep behoort het. Die eerste loting was vir hulle.

11. Aan hulle is eerstens Kirjat-Arba toegeken, dit is Hebron in die Judaberge met sy weivelde rondom. Arba was die voorvader van die Enakiete.

12. Die lande en die buiteposte van die stad is aan Kaleb seun van Jefunne as eiendom toegeken.

13. Die nageslag van die priester Aäron het dus ontvang: die asielstad Hebron, en Libna,

14. Jattir, Estemoa,

15. Golon, Debir,

16. Ajin, Jutta en Bet-Semes, elkeen met sy weiveld, nege stede van dié twee stamme,

17. en van die stam Benjamin Gibeon, Geba,

18. Anatot en Almon, die vier stede elkeen met sy weiveld.

19. Die priesters uit die nageslag van Aäron het dus altesaam dertien stede met hulle weivelde gehad.

20. Vir die Levitiese families in die res van die Kehatgroep is eerstens stede geloot in die stamgebied van Efraim.

Lees volledige hoofstuk Josua 21