Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 11:2-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. en aan die konings in die noordelike Bergland, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, in die Laeveld en op die bergrug van Dor in die weste,

3. die Kanaäniete in die ooste en die weste, die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die Bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispegebied.

4. Hulle het almal gekom met hulle leërs, 'n groot menigte, so baie soos die sand van die see. Hulle het ook baie perde en strydwaens gehad.

5. Al die konings het 'n bondgenootskap gesluit en saam hulle soldate vir die oorlog teen Israel ontplooi by die Meromwaters.

6. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7. Josua en al sy manskappe het die vyand skielik oorval by die Meromwaters.

8. Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee en dié het hulle verslaan en hulle agtervolg by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei. Nie een het vrygekom nie.

9. Josua het met hulle gedoen soos die Here vir hom gesê het: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

10. Daarna het Josua na Hasor toe gegaan, die stad ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor het vroeër die leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar.

11. Die Israeliete het al die mense in die stad doodgemaak. Josua het hulle uitgeroei sodat niks wat asemhaal, bly lewe het nie. Die stad self het hy afgebrand.

12. Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense uitgeroei soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het.

13. Israel het egter nie die ou, gevestigde stede afgebrand nie. Dit is net Hasor wat deur Josua afgebrand is.

14. Die Israeliete het die buit en die vee van die stede gevat, maar al die mense doodgemaak. Hulle het die mense heeltemal uitgeroei. Nie een het bly lewe nie.

15. Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen. Niks wat die Here vir Moses beveel het, is nagelaat nie.

16. Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, die hele Suidland, die hele Gosengebied, die Laeveld, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle uitlopers.

Lees volledige hoofstuk Josua 11