Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 11:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Koning Jabin van Hasor het gehoor van Josua se oorwinnings. Hy stuur toe boodskappe aan koning Jobab van Madon, aan die konings van Simron en Aksaf

2. en aan die konings in die noordelike Bergland, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, in die Laeveld en op die bergrug van Dor in die weste,

3. die Kanaäniete in die ooste en die weste, die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die Bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispegebied.

4. Hulle het almal gekom met hulle leërs, 'n groot menigte, so baie soos die sand van die see. Hulle het ook baie perde en strydwaens gehad.

5. Al die konings het 'n bondgenootskap gesluit en saam hulle soldate vir die oorlog teen Israel ontplooi by die Meromwaters.

6. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7. Josua en al sy manskappe het die vyand skielik oorval by die Meromwaters.

8. Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee en dié het hulle verslaan en hulle agtervolg by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei. Nie een het vrygekom nie.

9. Josua het met hulle gedoen soos die Here vir hom gesê het: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

10. Daarna het Josua na Hasor toe gegaan, die stad ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor het vroeër die leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar.

Lees volledige hoofstuk Josua 11