Ou Testament

Nuwe Testament

Jona 1:8-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?”

9. Jona het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.”

10. Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?”Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel.

11. Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?”Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword.

12. Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.”

13. Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle.

14. Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.”

15. Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.

16. Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê.

17. Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

Lees volledige hoofstuk Jona 1