Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 8:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Here het vir my gesê: Vat 'n stuk leer en skryf daarop met 'n pen: Plunder en roof is naby.

2. Ek sal betroubare getuies vir My laat optree: Urija die priester en Sagaria seun van Jeberekja.

3. Na 'n tyd het my vrou swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Die Here het toe vir my gesê: Noem hom: Plunder-en-Roof-is-Naby,

4. want voordat die seuntjie pa of ma kan sê, sal die rykdom van Damaskus en die besittings van Samaria as buit na die koning van Assirië toe gevat word.

5. Die Here het verder met my gepraat:

6. “Omdat hierdie volk Siloag se kalm waters verwerp het en bang geword het vir Resin en vir Peka seun van Remalja,

7. sal die Here die magtige vloedwaters van die Eufraat oor hulle laat kom: die Assiriese koning met al sy mag. Die Eufraat sal oor al sy oewers stoot, oor al sy walle spoel.

8. Hy sal Juda binnedring, die hele land oorstroom en daardeur vloei totdat hy skouerhoogte bereik. Hy sal sy vlerke uitsprei totdat dit jou land heeltemal oordek, Immanuel.”

9. Doen maar kwaad, volke, julle sal inmekaar stort!Luister, al julle ver plekke van die aarde!Maak maar klaar vir die geveg, julle sal inmekaar stort!Maak maar klaar vir die geveg, julle sal inmekaar stort!

10. Smee maar planne, dit sal verydel word! Pleeg maar oorleg,daar sal niks van kom nie! God is by ons!

11. In sy groot mag het die Here my gewaarsku om nie die voorbeeld van hierdie volk te volg nie. Hy het gesê:

Lees volledige hoofstuk Jesaja 8