Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:4-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!”

5. Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is,

6. moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring.

7. As julle aan My gehoorsaam is, sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in hierdie land wat Ek vir altyd aan julle voorvaders gegee het.

8. Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie.

9. Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie,

10. en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: “Ons is veilig” nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge!

11. Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle 'n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here.

12. Gaan na Silo toe, na die plek waar Ek voorheen my Naam laat woon het, gaan kyk wat Ek aan hom gedoen het oor die sonde van my volk Israel.

13. Julle het al hierdie dinge gedoen, sê die Here. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie; Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie.

14. Daarom gaan Ek met hierdie huis wat na my Naam genoem is, en waarin julle julle vertroue stel, en met hierdie land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het, net so maak soos Ek met Silo gemaak het.

15. Ek sal julle verwerp soos Ek julle broers, die hele nageslag van Efraim, verwerp het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7