Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:15-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Ek sal julle verwerp soos Ek julle broers, die hele nageslag van Efraim, verwerp het.

16. Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie.

17. Sien jy nie wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem nie?

18. Kinders maak hout bymekaar, die mans steek vure aan en die vrouens knie deeg om koeke te bak vir die koningin van die hemel. Hulle bring ook drankoffers aan ander gode om My seer te maak.

19. Is dit vir My wat hulle seermaak? vra die Here. Nee, hulle maak hulleself seer en hulle bring skande oor hulleself.

20. Daarom, sê die Here my God, laat Ek my gloeiende toorn oor hierdie land kom, oor mens en dier, oor die bome in die veld en die opbrengs van die land. My toorn sal bly brand en nie tot bedaring gebring kan word nie.

21. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Bring nog meer brandoffers saam met julle offers en eet die vleis.

22. Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie.

23. Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.

24. Maar hulle het nie geluister nie en hulle aan My nie gesteur nie. Hulle was hardkoppig en moedswillig, hulle het hulle eie kop gevolg, sodat hulle versleg het in plaas van te verbeter.

25. Vandat julle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur.

26. Maar die volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie, hulle het hardkoppig gebly en meer kwaad as hulle voorvaders gedoen.

27. Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie; al roep jy hulle, sal hulle jou nie antwoord nie.

28. Sê vir hulle hulle is 'n nasie wat ongehoorsaam is aan die Here hulle God en wat hulle nie laat leer nie. Waarheid het verdwyn, dit word nie meer by hulle gehoor nie.

29. Sny af die hare wat jy as nasireër laat groei het en gooi dit weg, sing op die heuwels 'n klaaglied, want die Here het die volk wat sy toorn laat ontbrand het, verwerp en verstoot.

30. Die Judeërs het gedoen wat verkeerd is in my oë, sê die Here: hulle het hulle afskuwelike afgode gesit in die huis wat na my Naam genoem is en dit so ontwy.

31. Hulle het die hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om daar hulle seuns en dogters in die vuur te offer. Dit was teen my bevel, so iets het selfs nie in my gedagte opgekom nie.

32. Daarom kom daar dae, sê die Here, dat hulle dit nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal sal noem nie, maar Moorddal. Hulle sal daar mense begrawe omdat daar nie elders meer plek sal wees vir grafte nie.

33. Daar sal die voëls en die wilde diere die lyke van die volk eet sonder dat iemand hulle verwilder.

34. In die stede van Juda en in die strate van Jerusalem sal Ek 'n einde maak aan vreugde en gejuig, aan die vrolikheid van huweliksfeeste. Die land sal 'n puinhoop word.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7