Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:11-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle 'n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here.

12. Gaan na Silo toe, na die plek waar Ek voorheen my Naam laat woon het, gaan kyk wat Ek aan hom gedoen het oor die sonde van my volk Israel.

13. Julle het al hierdie dinge gedoen, sê die Here. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie; Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie.

14. Daarom gaan Ek met hierdie huis wat na my Naam genoem is, en waarin julle julle vertroue stel, en met hierdie land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het, net so maak soos Ek met Silo gemaak het.

15. Ek sal julle verwerp soos Ek julle broers, die hele nageslag van Efraim, verwerp het.

16. Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie.

17. Sien jy nie wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem nie?

18. Kinders maak hout bymekaar, die mans steek vure aan en die vrouens knie deeg om koeke te bak vir die koningin van die hemel. Hulle bring ook drankoffers aan ander gode om My seer te maak.

19. Is dit vir My wat hulle seermaak? vra die Here. Nee, hulle maak hulleself seer en hulle bring skande oor hulleself.

20. Daarom, sê die Here my God, laat Ek my gloeiende toorn oor hierdie land kom, oor mens en dier, oor die bome in die veld en die opbrengs van die land. My toorn sal bly brand en nie tot bedaring gebring kan word nie.

21. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Bring nog meer brandoffers saam met julle offers en eet die vleis.

22. Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie.

23. Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.

24. Maar hulle het nie geluister nie en hulle aan My nie gesteur nie. Hulle was hardkoppig en moedswillig, hulle het hulle eie kop gevolg, sodat hulle versleg het in plaas van te verbeter.

25. Vandat julle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7