Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 43:4-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Joganan seun van Kareag, die leëraanvoerders en die manskappe wou nie een die Here gehoorsaam en in Juda bly nie.

5. Hulle het almal saamgevat wat van Juda oor was, wat van oral waar hulle onder die ander nasies verstrooi was, teruggekom het om in Juda te bly,

6. mans, vrouens en kinders, en ook die prinsesse en al die ander wat deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan onder die sorg van Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, geplaas was, ook die profeet Jeremia en Baruk seun van Nerija.

7. Joganan-hulle het die Here nie gehoorsaam nie en is na Egipte toe. Daar het hulle in Tagpanges aangekom.

8. Die woord van die Here het in Tagpanges tot Jeremia gekom:

9. Vat groot klippe en begrawe hulle in die grond, in die kleivloer van die ingang na die farao se paleis in Tagpanges. Doen dit terwyl van die Judeërs jou sien.

10. Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek laat my dienaar koning Nebukadnesar van Babel haal en Ek sit sy troon bo-oor dié klippe wat Ek laat begrawe het en Ek span sy troonhemel daaroor.

11. Nebukadnesar sal kom en Egipte verslaan. Wie aan pes moet sterf, sal aan pes sterf; wie as gevangene weggevoer moet word, sal as gevangene weggevoer word; wie met die swaard doodgemaak moet word, sal met die swaard doodgemaak word.

12. Ek sal die tempels van Egipte afbrand en Nebukadnesar sal die gode verbrand of hulle as buit saamvat. Hy sal Egipte so skoon stroop soos wanneer 'n skaapwagter luise soek in sy klere, en daarna sal hy ongehinderd vertrek.

13. Hy sal die klippilare in Bet-Semes stukkend slaan, Bet-Semes in Egipte, en hy sal die tempels van Egipte afbrand.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 43