Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 42:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Ek sal tot die Here julle God bid soos julle gevra het. Ek sal alles wat die Here vir julle wil sê, aan julle oordra. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.”

5. Hulle sê toe vir Jeremia: “Die Here self sal die betroubare en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie alles doen wat die Here jou God jou opdra om vir ons te sê nie.

6. Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur, sodat dit met ons goed sal gaan. Ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God.”

7. Tien dae later het die woord van die Here tot Jeremia gekom.

8. Hy het Joganan seun van Kareag, al die leëraanvoerders by hom en al die ander mense, klein en groot, geroep

9. en vir hulle gesê: So sê die Here die God van Israel na wie toe julle my gestuur het om julle versoek aan Hom voor te lê:

10. As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie plat slaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie. Ek sal die ramp wat Ek oor julle gebring het, nie verder voer nie.

11. Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry.

12. Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 42