Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 42:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan.

13. Maar as julle die Here julle God nie wil gehoorsaam nie, as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie,

14. as julle sê: “Nee, ons wil Egipte toe waar ons nie oorlog sal sien nie, nie die ramshoring sal hoor blaas om te gaan veg nie en nie honger sal ly nie, ons wil daar gaan bly”

15. hoor dan die woord van die Here, julle wat van Juda oor is! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: As julle vas besluit het om Egipte toe te gaan en julle gaan woon daar,

16. sal die oorlog waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die hongersnood wat julle vrees, sal julle daarheen volg, en julle sal daar sterf.

17. Ja, almal wat vasbeslote is om na Egipte toe te gaan en daar te woon, sal sterf deur oorlog, deur hongersnood en deur pes. Nie een van hulle sal vrykom en die rampe ontsnap wat Ek oor hulle sal bring nie.

18. Ja, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Soos my toorn en my gramskap uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my toorn oor julle uitgestort word as julle na Egipte toe gaan. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder, en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.

19. Die Here het vir julle gesê, julle wat van Juda oor is: Moenie na Egipte toe gaan nie!Toe sê Jeremia vir hulle: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag,

20. julle maak 'n fout! Julle lewe is op die spel. Julle het my na die Here julle God toe gestuur en gevra: ‘Bid vir ons tot die Here ons God, sê vir ons alles wat die Here ons God sê, ons sal dit doen.’

21. Maar noudat ek vandag vir julle gesê het wat Hy sê, is julle ongehoorsaam aan die Here julle God, aan alles wat Hy my opgedra het om vir julle te sê.

22. Weet nou verseker dat julle deur oorlog, deur hongersnood en deur pes sal sterf op die plek waar julle so graag wil gaan woon.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 42