Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 39:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die tiende maand van die negende jaar van koning Sedekia van Juda het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër na Jerusalem toe gekom en dit beleër.

2. Op die negende van die vierde maand van die elfde jaar van koning Sedekia is die stadsmuur oopgebreek.

3. Die koning van Babel se offisiere, Nergal-Sareser uit Sinmagir, hoof van die strydwamag, Nebu-Sarsekim die hoofamptenaar en al die ander offisiere van die koning van Babel het in die stad ingekom en by die Middelpoort gaan sit.

4. Toe koning Sedekia van Juda en al sy soldate sien wat gebeur, het hulle op die vlug geslaan en in die nag met 'n pad deur die Koningstuin by die hek tussen die twee mure uitgegaan en met die pad na die Jordaanvallei toe probeer wegkom.

5. Maar die leër van die Galdeërs het hulle agtervolg en vir Sedekia in die Jerigovlakte ingehaal en gevang. Hulle het hom na Nebukadnesar toe in Ribla in Hamat gebring en daar het hy Sedekia se vonnis uitgespreek.

6. Die koning van Babel het die seuns van Sedekia voor sy oë doodgemaak in Ribla. Die koning van Babel het ook al die vername mense van Juda doodgemaak.

7. Hy het Sedekia se oë uitgesteek en hom met bronskettings geboei om hom na Babel toe te vat.

8. Die Galdeërs het die paleis en die huise van die volk afgebrand en die mure van Jerusalem platgeslaan.

9. Nebusaradan, die hoof van die koning van Babel se lyfwag, het dié van die volk wat in die stad oorgebly het en dié wat na hom toe oorgeloop het, die hele volk wat nog oor was, in ballingskap weggevoer na Babel toe.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 39