Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Elkeen sou sy slaaf of slavin van Hebreeuse afkoms vrylaat, geen Judeër sou 'n volksgenoot as slaaf aanhou nie.

10. Al die amptenare en die hele volk wat die ooreenkoms aangegaan het om hulle slawe en slavinne vry te laat sodat hulle nie meer diens moes lewer nie, het hulle vrygelaat.

11. Maar die eienaars het agterna van gedagte verander en hulle slawe en slavinne wat vrygelaat was, gedwing om weer slawe en slavinne te wees en hulle mishandel.

12. Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

13. So sê die Here die God van Israel: Die dag toe Ek julle voorvaders uit die plek van slawerny, uit Egipte laat wegtrek het, het Ek 'n verbond met hulle gesluit:

14. Aan die einde van sewe jaar moet julle elke Hebreeuse volksgenoot wat hom as slaaf aan julle verkoop het, vrylaat. Nadat hy julle ses jaar lank as slaaf gedien het, moet julle hom vrylaat en van julle af wegstuur. Maar julle voorvaders het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie.

15. Julle het onlangs egter tot bekering gekom en gedoen wat reg is in my oë deur julle volksgenote wat slawe was, vry te laat. Julle het selfs 'n ooreenkoms voor My aangegaan in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.

16. Maar nou het julle weer van gedagte verander en my Naam onteer toe elkeen sy slaaf en slavin wat hy vrygelaat het om sy eie gang te gaan, gedwing het om weer julle slawe en slavinne te wees. En julle mishandel hulle.

17. Daarom, so sê die Here: Julle het nie na My geluister nie. Julle het nie julle volksgenote vrygelaat nie. Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik.

18. Elkeen wat hom nie gesteur het aan die verbond met My en die voorwaardes van die ooreenkoms wat hulle in my teenwoordigheid aangegaan het, nie nagekom het nie, sal Ek maak soos die kalf wat julle met die verbondsluiting in twee stukke gesny en toe daartussendeur geloop het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34