Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:14-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Aan die einde van sewe jaar moet julle elke Hebreeuse volksgenoot wat hom as slaaf aan julle verkoop het, vrylaat. Nadat hy julle ses jaar lank as slaaf gedien het, moet julle hom vrylaat en van julle af wegstuur. Maar julle voorvaders het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie.

15. Julle het onlangs egter tot bekering gekom en gedoen wat reg is in my oë deur julle volksgenote wat slawe was, vry te laat. Julle het selfs 'n ooreenkoms voor My aangegaan in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.

16. Maar nou het julle weer van gedagte verander en my Naam onteer toe elkeen sy slaaf en slavin wat hy vrygelaat het om sy eie gang te gaan, gedwing het om weer julle slawe en slavinne te wees. En julle mishandel hulle.

17. Daarom, so sê die Here: Julle het nie na My geluister nie. Julle het nie julle volksgenote vrygelaat nie. Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik.

18. Elkeen wat hom nie gesteur het aan die verbond met My en die voorwaardes van die ooreenkoms wat hulle in my teenwoordigheid aangegaan het, nie nagekom het nie, sal Ek maak soos die kalf wat julle met die verbondsluiting in twee stukke gesny en toe daartussendeur geloop het.

19. Ek sal die leiers van Juda, die leiers van Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en al die landsburgers wat tussen die twee stukke van die kalf deur geloop het,

20. in die mag van hulle vyande oorgee, in die mag van dié wat hulle lewe soek. Hulle lyke sal gevreet word deur voëls en roofdiere.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34