Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 28:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In daardie tyd, in die vyfde maand van die vierde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, dit was dus in die eerste deel van sy regering, het die profeet Gananja seun van Assur uit Gibeon vir my in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk in die huis van die Here gesê:

2. “So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek sal die juk wat die koning van Babel julle oplê, verbreek.

3. Oor twee jaar sal Ek al die voorwerpe uit my tempel, wat koning Nebukadnesar van Babel uit hierdie plek uit na Babel toe gevat het, hierheen laat terugbring.

4. Ek sal ook vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, en al die ballinge van Juda wat deur Nebukadnesar na Babel toe gevat is, na hierdie plek toe terugbring, sê die Here, want Ek sal die juk wat Babel se koning julle oplê, verbreek.”

5. Toe antwoord die profeet Jeremia die profeet Gananja in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk wat in die huis van die Here gestaan het.

6. Die profeet Jeremia het gesê: “Ek sou dit ook graag so wou hê. Mag die Here dit doen. Mag die Here bevestig wat jy as profeet gesê het en die voorwerpe uit die huis van die Here en al die ballinge na hierdie plek toe terugbring uit Babel.

7. Maar luister tog na wat ek nou gaan sê sodat jy en die hele volk dit kan hoor.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 28