Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 27:2-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. So het die Here vir my gesê: Maak vir jou jukke met skeie en stroppe en sit een daarvan op jou nek.

3. Die ander moet jy na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon toe stuur met die boodskappers wat na koning Sedekia van Juda in Jerusalem gekom het.

4. Beveel die boodskappers om vir hulle konings te sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle moet vir julle konings sê:

5. Deur my groot krag en met my magtige dade het Ek die aarde, die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak en Ek gee dit aan wie Ek wil.

6. Ek gee al hierdie lande nou in die mag van my dienaar koning Nebukadnesar van Babel. Ek gee ook al die wilde diere aan hom vir sy gebruik.

7. Al die nasies sal hom dien, hom en sy seun en sy kleinseun, totdat ook die dag vir sy land sal kom, en dan sal baie nasies en sterk konings hom onderwerp.

8. Die nasie of koninkryk wat nie vir koning Nebukadnesar van Babel wil dien en onder die juk van Babel se koning wil buig nie, sal Ek met oorlog en met hongersnood en met pes straf, sê die Here. Ek sal hulle uitroei deur Nebukadnesar.

9. Julle moenie luister na julle profete, julle besweerders, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie.

10. Dit is vals profete wat vir julle optree, en daardeur sal julle ver weggevat word uit julle land uit. Ek sal julle verban en julle sal omkom.

11. Maar die nasie wat onder die juk van Babel se koning buig en hom dien, sal Ek in sy vaderland laat bly, sê die Here, en hy sal sy land bewerk en daar woon.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 27