Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25:13-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Dan sal Ek alles wat Ek teen daardie land gesê het, alles wat in hierdie boek opgeteken staan en wat Jeremia as profeet teen daardie nasies aangekondig het, oor daardie land bring.

14. Daardie nasies sal die onderdane word van baie nasies en van sterk konings. Ek sal hulle straf ooreenkomstig hulle dade en ooreenkomstig die afgodsbeelde wat hulle gemaak het.

15. So het die Here die God van Israel vir my gesê: Vat hierdie beker uit my hand. Dit is gevul met die wyn van my toorn. Jy moet al die nasies na wie toe Ek jou stuur, daaruit laat drink.

16. Wanneer hulle dit drink, sal hulle waggel en slinger: dit is oorlog wat Ek onder hulle loslaat.

17. Ek het die beker uit die hand van die Here gevat en al die nasies na wie toe Hy my gestuur het, laat drink

18. om hulle te verwoes en om hulle name dan te laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek: Jerusalem, die stede van Juda, sy konings en sy amptenare;

19. die farao van Egipte, sy onderdane, sy amptenare, sy volk

20. en die gemengde bevolking in Egipte; al die konings van Us, al dié van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het;

21. Edom, Moab en die Ammoniete,

22. al die konings van Tirus, Sidon, die kusstreke oorkant die see;

23. Dedan, Tema, Bus, almal wat hulle koppe aan die kante kaal skeer;

24. al die konings van Arabië en dié van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon;

25. al die konings van Simri, Elam en Medië,

26. al die konings van die noorde, dié wat naby is en dié wat ver is, een na die ander, al die koninkryke wat oor die hele aarde versprei is. Heel laaste moet die koning van Sesak die beker drink.

27. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Drink en word dronk en braak en val! Julle sal nie opstaan nie. Dit sal gebeur deur die oorlog wat Ek onder julle sal loslaat.

28. Wanneer hulle weier om die beker uit jou hand te vat om te drink, moet jy vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Drink sal julle drink!

29. Kyk, Ek begin 'n ramp bring oor die stad waaroor my Naam uitgeroep is, en wil julle los uitstap, sonder om gestraf te word? Nee, Ek het die oorlog teen al die bewoners van die aarde ingeroep, sê die Here die Almagtige.

30. Jy moet as profeet optree teen hulle en dit alles vir hulle sê:Die Here brul in die hoogte,Hy laat sy stem hoor in sy heilige woonplek,Hy brul hard teen sy weiveld,Hy roep van vreugde soos dié wat druiwe trap,Hy sing 'n klaaglied oor al die bewoners van die land.

31. Die klank sal trek tot in die uithoeke van die aarde,want die Here kla die nasies aan,Hy sal al die mense straf,die goddeloses aan die oorlog uitlewer,sê die Here.

32. So sê die Here die Almagtige:Daar trek 'n ramp van nasie tot nasie,'n groot storm steek op van die uithoeke van die aarde af.

33. Daardie dag sal dié wat deur die Here verslaan is, van die een uithoek van die aarde af tot in die ander uithoek lê. Niemand sal oor hulle treur nie, hulle sal nie bymekaargemaak en begrawe word nie. Hulle sal soos mis op die grond bly lê.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 25