Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 12:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Ek sal my saak vir U stel, want U is regverdig, Here. Ek sal punt vir punt my saak voor U lê: Waarom is die goddelose mense voorspoedig en het die ontrou mense geen sorge nie?

2. U het hulle geplant; hulle het wortel geskiet, gegroei, ook vrugte gedra. Hulle neem u Naam graag op hulle lippe, maar U is nie in hulle hart nie.

3. U ken my, Here, U sien my en toets my gesindheid teenoor U. Bring hulle om die lewe soos skape by die slagplek, sonder hulle af vir die slagting wat kom.

4. Hoe lank moet die land droog lê, moet al die plante van die veld verdor? Die diere en die voëls vergaan oor die boosheid van die inwoners van die land wat sê: “Jeremia sal nie langer leef as ons nie.”

5. As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in 'n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan?

6. Jou broers en jou familie, selfs hulle het jou verraai, hulle het ander teen jou gewaarsku. Moet hulle nie vertrou as hulle vriendelik met jou praat nie.

7. Ek het my volk verlaat, hulle wat aan My behoort, prysgegee, die volk wat Ek liefhet, oorgegee in die mag van sy vyande.

8. My eie volk het soos 'n leeu in die bos teenoor My geword, hulle het vir My gebrul, daarom het Ek 'n afkeer van hulle gekry.

9. My eie volk is soos 'n hiëna teenoor My, met 'n klomp roofvoëls rondom; gaan maak al die roofdiere bymekaar, laat hulle kom vreet!

10. Die baie regeerders het my wingerd verniel, my lande vertrap, my pragtige land 'n verlate woestyn gemaak,

11. dit 'n woestyn gemaak wat treur, wat verlate voor My lê. Die hele land lê verlate, maar niemand steur hom daaraan nie.

12. Oor al die heuwels in die woestyn kom rowers. Die swaard van die Here verteer van die een kant van die land tot by die ander. Geen mens of dier word met rus gelaat nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 12