Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 11:12-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Dan sal die inwoners van die stede van Juda en die inwoners van Jerusalem om hulp gaan roep na die gode vir wie hulle offers gebring het, maar die gode sal hulle nie red wanneer die ramp oor hulle kom nie.

13. Jy het soveel gode gehad as wat jy stede het, Juda, en om te offer aan die skandegod, aan Baäl, het julle soveel altare opgerig as wat daar strate in Jerusalem was.

14. En jy, Jeremia, moenie vir hierdie volk bid nie, moenie vir hulle pleit of bid nie, want as jy My aanroep wanneer die ramp hulle tref, sal Ek nie luister nie.

15. Waarom wil die volk wat Ek liefhet, sy sondige planne in my tempel uitvoer? Kan baie mense en offervleis die ramp van jou afweer dat jy kan jubel?

16. 'n Groen olyfboom met mooi gevormde vrugte,so het die Here jou genoem.Maar as die hordes met 'n gedruis aankom,sal hulle jou blare aan die brand steeken jou takke kaal stroop.

17. Die Here die Almagtige wat jou geplant het, het bepaal dat die ramp oor jou kom. Dit gebeur oor die kwaad wat die mense van Israel en Juda hulleself aangedoen het toe hulle My gekrenk het met hulle offerandes aan Baäl.

18. Dit is die Here wat my dit te kenne gegee het, daarom weet ek dit; U het my laat sien wat hulle doen.

19. Ek was soos 'n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie besef dat hulle teen my saamsweer nie. Hulle het gesê: “Laat ons die boom met die sap in hom vernietig en hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat niemand meer aan hom dink nie.”

20. Here, Almagtige, regverdige Regter, wat hart en verstand toets, laat my sien hoe U op hulle wraak neem, want ek het my saak aan U toevertrou.

21. Daarom, so sê die Here oor die mense van Anatot wat jou lewe soek en sê: “Jy mag nie in die Naam van die Here as profeet optree nie, want dan sal ons jou doodmaak,”

22. so sê die Here die Almagtige: Ek sal hulle straf. Hulle jongmanne sal sterf deur oorlog, hulle seuns en hulle dogters sal sterf van honger.

23. Nie een van hulle sal oorbly nie, want Ek sal 'n ramp oor hulle bring wanneer Ek hulle straf.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 11