Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 4:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie. Omdat jy jou taak om hulle aan My toe te wy, verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die wil van jou God verontagsaam het, verontagsaam Ek die priesters wat onder jou dien.

7. Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal die aansien wat hulle geniet, in vernedering verander.

8. Hulle teer op die sonde van my volk. Hulle smag daarna dat die volk nog meer moet sondig.

9. Maar dit sal met die priesters gaan soos dit nou met die volk gaan. Ek sal die priesters straf vir hulle optrede. Wat hulle probeer doen, sal Ek in die teendeel verander:

10. as hulle offervleis eet, sal hulle honger bly, en as hulle aan tempelprostitusie deelneem, sal hulle nie kinders hê nie.Omdat die priesters die Here verlaat het om hulle toe te lê op

11. tempelprostitusie, en omdat wyn en drank hulle lewe in beslag neem,

12. soek my volk leiding by 'n stuk hout, verwag my volk dat 'n stok dinge aan hom bekend sal maak. Omdat 'n hoergees die priesters beetgepak het en hulle aan hulle God ontrou geword het,

13. bring hulle offers op die bergtoppe en offer hulle op die heuwels onder al die groot groen bome waar daar lekker skaduwee is. Dit is waarom julle dogters hoereer en julle skoondogters egbreuk pleeg.

14. Ek gaan nie julle dogters straf omdat hulle hoereer nie en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie, want daardie priesters is besig om met die hoere af te paar en saam met die tempelprostitute te offer! Maar dié wat nie op my waarskuwing ag slaan nie, sal vernietig word.

15. As jy hoereer, Israel, moet Juda dit nie ook doen nie. Juda, julle moenie die heiligdom by Gilgal besoek en na Bet-Awen toe gaan nie, en julle moenie daar 'n eed aflê in die Naam van die Here nie.

16. Israel is so koppig soos 'n moedswillige koei. Moet die Here hulle dan nou versorg soos 'n herder sy skape in die veld versorg?

Lees volledige hoofstuk Hosea 4