Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 2:4-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hulle moeder was 'n prostituut, sy het swanger geword omdat sy haar skandelik gedra het. Sy het bly sê: “Ek gaan na my minnaars toe. Dit is húlle wat sorg dat ek brood en water, wol en vlas, olie en drank het.”

5. Daarom gaan Ek haar pad versper met doringtakke en haar afkamp sodat sy nie haar planne kan uitvoer nie,

6. en as sy dan haar minnaars probeer opsoek en hulle nie raakloop nie, hulle soek en nie kry nie, sal sy dalk sê: “Ek sal na my eie man toe teruggaan, want ek was by hom beter versorg as nou.”

7. Sy wou nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olie en baie geld gee nie, geld wat sy in elk geval vir Baäl gebruik het.

8. Daarom gaan Ek die koring en wyn wat sy by My kry, terughou in die oestyd. Ek gaan ook die wol en die vlas terugvat wat Ek haar gegee het om haar naaktheid te bedek.

9. Ek gaan haar nou kaal uittrek voor die oë van haar minnaars. Nie een sal haar kan help nie.

10. Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde, haar huttefeeste, haar nuwemaansfeeste en haar sabbatsfeeste, al haar feeste.

11. Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes, die dinge waarvan sy sê: “Dit is my beloning wat my minnaars my gee vir my dienste.” Ek gaan dit 'n boskasie maak en die wilde diere sal dit opvreet.

12. Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.

13. Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê.

Lees volledige hoofstuk Hosea 2