Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 7:4-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Oor sewe dae sal Ek dit veertig dae en nagte lank laat reën en alles wat leef, wat Ek gemaak het, wegvee van die aarde af.”

5. Noag het alles gedoen soos die Here hom beveel het.

6. Noag was ses honderd jaar toe die vloedwaters oor die aarde gekom het.

7. Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het in die ark ingegaan vir die vloedwaters.

8. Die rein en die onrein diere, die voëls, en die diere wat kruip,

9. het in pare, manlik en vroulik, na Noag toe in die ark gekom soos God vir Noag gesê het.

10. Op die sewende dag het die vloedwaters oor die aarde gekom.

11. Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak,

12. sodat daar 'n stortreën op die aarde geval het, veertig dae en veertig nagte lank.

13. Dit was die dag waarop Noag en sy seuns, Sem, Gam en Jafet, en sy vrou en sy drie skoondogters almal saam in die ark ingegaan het.

14. Hulle, en elke soort wilde dier en mak dier, en al die soorte diere wat kruip, en elke soort voël, alles wat vlieg, het ingegaan.

15. Van al wat leef, het daar pare-pare na Noag toe in die ark gekom.

16. Hulle het ingekom, manlik en vroulik, soos God vir Noag gesê het. En toe het die Here die ark agter Noag toegesluit.

Lees volledige hoofstuk Genesis 7