Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 50:9-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Waens en perde is met Josef saam. Dit was 'n baie groot stoet.

10. Toe hulle by die dorsvloer van Atad oos van die Jordaan kom, het hulle sewe dae lank daar getreur en gerou oor hulle pa. Hulle het baie getreur oor hom.

11. Die mense van Kanaän het hulle daar by die dorsvloer van Atad sien rou en gesê: Egipte is swaar in rou. Daarom noem hulle hierdie plek aan die oostekant van die Jordaan Abel-Misrajim.

12. Jakob se seuns het gedoen wat hulle pa gesê het.

13. Hulle het hom Kanaän toe gevat en gaan begrawe in die Makpelagrot op die grond wat deur Abraham by die Hetiet Efron as 'n begraafplek gekoop is. Die grond lê oos van Mamre.

14. Na die begrafnis is Josef en sy broers en almal wat met hom saam is om sy pa te gaan begrawe, terug Egipte toe.

15. Na hulle pa se dood het Josef se broers gevra: “En as Josef nog steeds 'n grief teen ons het en ons nou gaan terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het?”

16. Daarom het hulle 'n boodskap na hom toe gestuur: “Voor sy dood het u vader beveel:

17. ‘Julle moet vir Josef vra om tog die groot misdaad teen hom, die onreg wat julle hom aangedoen het, te vergewe.’ Vergeef ons tog nou die misdaad. Ons dien ook die God van u vader.”Josef het gehuil oor wat hulle vir hom laat weet het.

18. Daarna het die broers na Josef toe gegaan en voor hom op hulle knieë geval en gesê: “Hier is ons voor u. Ons is u slawe.”

19. Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie.

20. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.

21. Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.”Josef het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel.

22. Josef het in Egipte gebly, hy en sy hele familie. Hy het honderd en tien jaar oud geword.

Lees volledige hoofstuk Genesis 50