Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 44:4-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hulle was nog nie ver uit die stad uit nie, toe sê Josef vir sy hoofamptenaar: “Kom, sit die manne agterna. En as jy hulle ingehaal het, moet jy vir hulle vra: Waarom beantwoord julle die goeie met die slegte?

5. Dit is die beker waaruit Meneer drink en waarmee hy voorspellings doen. Dis 'n lelike ding wat julle gedoen het.”

6. Toe die hoofamptenaar hulle ingehaal het, het hy dit alles vir hulle gesê,

7. maar hulle het vir hom gesê: “Waarom sê u so? Nie een van ons sal so iets aanvang nie.

8. Die geld wat ons die vorige keer in ons graansakke ontdek het, het ons uit Kanaän uit vir u teruggebring. Waarom sou ons dan goud of silwer uit die huis van u hoof steel?

9. Die een by wie iets van u hoof gekry word, kan doodgemaak word, en ons sal dan u slawe word.”

10. Die hoofamptenaar het geantwoord: “Goed en reg! Dit sal wees soos julle sê, maar net die een by wie die beker gekry word, sal my slaaf word. Julle ander sal onskuldig wees.”

11. Toe het elkeen gou sy sak op die grond neergesit en dit oopgemaak.

12. Die hoofamptenaar het dit deurgesoek: hy het by die oudste s'n begin en by die jongste s'n laaste uitgekom en die beker in Benjamin se sak gekry.

13. Toe skeur hulle hulle klere. Elkeen het weer sy donkie gelaai en hulle het omgedraai stad toe.

14. Juda en sy broers het by Josef se huis aangekom. Hy was nog daar, en toe val hulle op die grond voor hom neer.

15. Josef het vir hulle gesê: “Waarom het julle dit aangevang? Julle weet tog dat 'n man soos ek voorspellings moet doen!”

16. Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.”

17. Toe sê Josef: “Dit laat ek nie toe nie. Dié een by wie die beker gekry is, sal my slaaf word, en julle kan ongehinderd na julle pa toe gaan.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 44