Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 44:18-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Maar Juda het nader gekom na Josef toe en gesê: “Asseblief tog, Meneer! Laat ek tog net nog een keer iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie! U is soos die farao self.

19. Meneer het ons gevra of ons pa nog leef en of ons nog 'n broer het,

20. en ons het vir Meneer gesê: ‘Ja, ons pa is oud. En op sy oudag het hy nog 'n jong seun wie se broer dood is. Die seun is die enigste wat van sy ma oorgebly het, en sy pa het hom lief.’

21. Maar u het gesê ons moet hom na u toe bring sodat u hom kan sien.

22. Toe het ons vir Meneer gesê: ‘Die kind kan nie van sy pa af weggaan nie, en as hy sou weggaan, sou dit sy pa se dood beteken.’

23. Maar u het vir ons gesê u wil ons nie weer sien as ons jongste broer nie hierheen kom nie.

24. En toe ons weer terug was by u onderdaan, ons pa, het ons hom vertel wat Meneer gesê het.

25. Toe ons pa ons later weer vra om vir ons 'n bietjie kos te gaan koop,

26. het ons vir hom gesê: ‘Ons kan nie gaan as ons jongste broer nie by ons is nie. Net as hy saamgaan, kan ons gaan, want as ons jongste broer nie by ons is nie, sal die man ons nie weer daar ontvang nie.’

27. Toe het u onderdaan, ons pa, vir ons gesê: ‘Julle weet my lieflingvrou het net twee seuns vir my in die wêreld gebring.

28. Die een is van my af weg en ek moes aanvaar dat 'n roofdier hom opgevreet het, en ek het hom tot nou toe nog nie weer gesien nie.

29. As julle nou ook nog hierdie jongste van my af wegvat en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom laat sterf van verdriet.’

30. Wanneer ons dus by ons pa terugkom en die seun aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie,

31. ja, as hy moet sien die seun is nie daar nie, sal hy sterf. So sal ons ons pa wat 'n ou man is, van kommer laat sterf.”

32. Juda het verder gesê: “Ek het vir my pa gewaarborg dat die seun sal terugkom. Ek het belowe ek sal vir altyd by my pa in die skuld wees as ek die seun nie terugbring nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 44