Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 44:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Toe het elkeen gou sy sak op die grond neergesit en dit oopgemaak.

12. Die hoofamptenaar het dit deurgesoek: hy het by die oudste s'n begin en by die jongste s'n laaste uitgekom en die beker in Benjamin se sak gekry.

13. Toe skeur hulle hulle klere. Elkeen het weer sy donkie gelaai en hulle het omgedraai stad toe.

14. Juda en sy broers het by Josef se huis aangekom. Hy was nog daar, en toe val hulle op die grond voor hom neer.

15. Josef het vir hulle gesê: “Waarom het julle dit aangevang? Julle weet tog dat 'n man soos ek voorspellings moet doen!”

16. Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.”

17. Toe sê Josef: “Dit laat ek nie toe nie. Dié een by wie die beker gekry is, sal my slaaf word, en julle kan ongehinderd na julle pa toe gaan.”

18. Maar Juda het nader gekom na Josef toe en gesê: “Asseblief tog, Meneer! Laat ek tog net nog een keer iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie! U is soos die farao self.

19. Meneer het ons gevra of ons pa nog leef en of ons nog 'n broer het,

20. en ons het vir Meneer gesê: ‘Ja, ons pa is oud. En op sy oudag het hy nog 'n jong seun wie se broer dood is. Die seun is die enigste wat van sy ma oorgebly het, en sy pa het hom lief.’

21. Maar u het gesê ons moet hom na u toe bring sodat u hom kan sien.

22. Toe het ons vir Meneer gesê: ‘Die kind kan nie van sy pa af weggaan nie, en as hy sou weggaan, sou dit sy pa se dood beteken.’

Lees volledige hoofstuk Genesis 44