Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:26-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

26. Toe Josef inkom, bring hulle vir hom die geskenk wat hulle saamgebring het, na die huis toe. Toe buig hulle diep voor hom.

27. Josef het hulle toe gevra hoe dit gaan. Hy het gevra: “Hoe gaan dit met julle pa wat so oud is en van wie julle my vertel het? Leef hy nog?”

28. Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met u onderdaan, ons pa. Hy leef nog.”Hulle het weer voor Josef gebuig en hom so geëer.

29. Toe Josef sy broer, sy ma se seun Benjamin, raaksien, vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” En Josef sê vir hom: “My seun, God sal jou genadig wees.”

30. Toe het Josef haastig padgegee om eenkant te gaan huil, want sy gemoed was vol oor sy broer. Josef is na sy kamer toe en hy het daar gaan huil.

31. Daarna het hy sy gesig gewas en teruggegaan. Hy was weer homself en hy het gesê: “Bedien die ete.”

32. Hulle het vir Josef afsonderlik bedien en so ook die broers en die Egiptenaars wat daar by hulle geëet het, want die Egiptenaars het 'n afsku daarvan om dieselfde kos as die Hebreërs te eet.

33. Die broers het teenoor Josef gesit, volgens hulle ouderdom: van die oudste af tot die jongste. Hieroor het die manne mekaar verbaas aangekyk.

34. Elkeen se kos is van Josef se tafel af aangegee, maar Benjamin s'n was vyf keer meer as dié van die ander. Hulle het wyn gedrink en saam met Josef dronk geword.

Lees volledige hoofstuk Genesis 43